WEEK 3 - DIE BETEKENIS VAN CHRISTUS SE DOOD EN OPSTANDING

Verlede week het ons gesien hoe die apostel van die heidene verborge geheimenisse ontvang het wat vir eeue onbekend was en hoe dit aan ons bekend gemaak is deur Paulus.  Jesus sê vir sy dissipels:  
Joh. 16:12  Nog baie dinge het Ek om aan julle te sê, maar julle kan dit nou nie dra nie. 
Kom ons kyk verder om te sien watter geheimenisse nog geopenbaar word, oor die dood van ons Here Jesus Christus...
Efes. 2:14  Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het (tussen ons)
Efes. 2:15  deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep (Jood en Heiden)
Efes. 2:16  en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het.   
By die kruis was die dissipels heeltemal onbewus van wat besig was om te gebeur.  Hulle het nie geweet dat die skeidingsmuur tussen Jood en Heiden afgebreek word nie, en dat beide Jood en Heiden nou een kon wees in die liggaam van Christus nie.  (Dit is aan Petrus geopenbaar in Handelinge 15:6-9.)

Terwyl Jesus sterwend was, het Hy gesê:  Dit is klaar, die dissipels het dit nie verstaan nie ... wat was klaar?  Paulus verduidelik aan ons dat Jesus die vleeslike sondes veroordeel het en die Wet wat niemand ooit kon red nie, weggeneem het.
Rom. 8:3  Want God het wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees,

Heb. 7:18  Want aan die een kant is daar die opheffing (wegneem) van die voorafgaande gebod (die Wet van Moses) weens die swakheid en nutteloosheid daarvan,
Heb. 7:19  omdat die wet niks volkome gemaak het nie; maar aan die ander kant is daar die invoering van ʼn beter hoop waardeur ons tot God nader.
Die dissipels was hartseer en wanhopig (moedeloos);  hulle het nie verstaan dat dit eintlik 'n tyd was om te juig nie!  Dit was die einde van die wet, vir die swakhede en onvoordeligheid daarvan.  Dit was die begin van 'n beter Hoop waardeur ons nou met vrymoedigheid kan nader tot die troon van Genade.

Fil. 2:8  en in gedaante gevind as ʼn mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.
Fil. 2:9  Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ʼn naam gegee wat bo elke naam is,
Fil. 2:10  sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is,
Fil. 2:11  en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.
Die dissipels het gesien hoe Jesus (die man) verneder en afgebreek is, hoe daar op hom gespuug is, hoe hy geslaan is en hoe sy klere geskeur is.  Hulle het nie verstaan dat dit 'n ewige mate van glorie bewerk nie.  Omdat Jesus gehoorsaam was tot die dood toe, het God hom uitermate verhoog!

Mar. 15:37  Maar Jesus het met ʼn groot stem geroep en die laaste asem uitgeblaas.
Mar. 15:38  En die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur van bo tot onder.
Dit was 'n daad wat deur God uitgevoer is.  Omdat die voorhangsel geskeur is, het dit bewys dat die tempel in Jerusalem uitgedien was (nie langer in gebruik nie).  Jesus sou sy bloed in die Jerusalem-tempel moes offer, maar omdat die voorhangsel van die Allerheiligste uitgedien was, kon hy nou ingaan in 'n groter en meer perfekte tabernakel, 'n tabernakel wat nie met hande gemaak is nie.

Heb. 9:11  Maar Christus, wat opgetree het as Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie aan hierdie skepping behoort nie,
Heb. 9:12  ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ʼn ewige verlossing teweeggebring (vir ons).

Ewige verlossing is verkry, vir ons, by die dood van Jesus, en die dissipels het nie eens geweet dat die mensdom vrygekoop moes word nie! 
Heb. 9:24  Want Christus het nie ingegaan in ʼn heiligdom met hande gemaak, ʼn teëbeeld van die ware nie, maar in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn;
Heb. 9:25  ook nie om Homself dikwels te offer, soos die hoëpriester elke jaar in die heiligdom ingaan met bloed wat nie sy eie is nie,
Heb. 9:26  want dan moes Hy dikwels gely het van die grondlegging van die wêreld af. Maar nou het Hy een maal in die voleinding van die eeue verskyn om die sonde deur sy offer weg te doen.
Dit alles het gebeur terwyl Jesus gesterf het.

Kom ons kyk na die belangrikheid van ons Here Jesus se opstanding:

Het die dissipels die opstanding verstaan?
Joh. 11:14  En toe sê Jesus vir hulle ronduit: Lasarus is dood.
Joh. 11:15  En Ek is bly om julle ontwil dat Ek nie daar was nie, sodat julle kan glo. Maar laat ons na hom toe gaan.
Joh. 11:16  En Thomas, wat Dídimus genoem word, vir sy mededissipels: Laat ons ook gaan om saam met Hom te sterwe.

Ons skiet nie die dissipels af nie.  Ons beantwoord steeds die vraag:  was dit nodig dat God 'n man moes kies, nadat Sy Seun opgevaar het na die hemel?
Wat was aan Paulus geopenbaar met betrekking tot die opstanding van Jesus Christus onse Here?  Onthou dat Paulus opgeneem was tot in die derde hemel.
1Kor. 15:12  As dit dan gepreek word dat Christus uit die dode opgewek is, hoe sê sommige onder julle dat daar geen opstanding van die dode is nie?
1Kor. 15:13  As daar geen opstanding van die dode is nie, dan is Christus ook nie opgewek nie.
1Kor. 15:14  En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof;
1Kor. 15:15  en dan word ons valse getuies van God bevind, omdat ons teen God getuig het dat Hy Christus opgewek het, wat Hy nie opgewek het nie, ten minste as die dode nie opgewek word nie.
1Kor. 15:16  Want as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie;
1Kor. 15:17  en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes;
1Kor. 15:18  dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore.
1Kor. 15:19  As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense.
1Kor. 15:20  Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het.
1Kor. 15:21  Want aangesien die dood deur ʼn mens is, is die opstanding van die dode ook deur ʼn mens.
1Kor. 15:22  Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word;

1Kor. 15:54  En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning.
1Kor. 15:55  Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?

Fil. 3:10  sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word,
Fil. 3:11  of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik.

Die dissipels het nie besef dat hulle moet identifiseer met die dood, begrafnis en opstanding van ons Here Jesus Christus nie.
Rom. 6:3  Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie?
Rom. 6:4  Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ʼn nuwe lewe kan wandel.
Rom. 6:5  Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding;

Paulus het in dieselfde generasie as die dissipels geleef.  Hy het geweet wat hulle geglo het.  Paulus was 'n Fariseër, hy is geleer deur Gamaliel, 'n doktor van die wet.  Gamaliel het 'n reputasie onder al die mense gehad (Hand 5:34, 22:3).  Paulus het ook geweet wat die Sadduseërs geglo het.  Wat Paulus in sy briewe geskryf het, is deur niemand anders aan die mense geleer nie en hy (Paulus) het die verantwoordelikheid van so 'n groot openbaring besef.
2Kor. 12:7  En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my 'n doring in die vlees gegee, ʼn engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie.

1Kor. 9:16  Want as ek die evangelie verkondig, is dit vir my geen roem nie; want die dwang is my opgelê, en wee my as ek die evangelie nie verkondig nie!
1Kor. 9:17  Want as ek dit vrywillig doen, het ek loon; maar as ek dit onwillig doen, is ʼn rentmeesterskap aan my toevertrou.
1Kor. 9:18  Watter loon het ek dan? Dat as ek die evangelie verkondig, ek die evangelie van Christus kosteloos bring, om nie van my reg in die evangelie ten volle gebruik te maak nie.
1Kor. 9:19  Want alhoewel ek van almal vry was, het ek my aan almal diensbaar gemaak om soveel van hulle as moontlik te win.
1Kor. 9:20  Vir die Jode het ek soos ʼn Jood geword om die Jode te win; vir die wat onder die wet is, soos een wat onder die wet is, om die wat onder die wet is, te win.
1Kor. 9:21  Vir die wat sonder die wet is, soos een sonder wet — al is ek nie sonder die wet van God nie, maar onder die wet van Christus — om die wat sonder die wet is, te win;
1Kor. 9:22  vir die swakkes het ek soos ʼn swakke geword om die swakke te win; vir almal het ek alles geword om in alle geval sommige te red.
1Kor. 9:23  En ek doen dit ter wille van die evangelie, dat ek ʼn deelgenoot daarvan kan word.